Die Volksblad
Joernaal 15 Februarie 2002
Sy praat die taal van haar hart
Ek gee om vir almal - Amanda Strydom
DEUR ADRI HERBERT
DIS so goed jy sit een van haar CDs aan wanneer jy met Amanda Strydom praat. Jy voel dieselfde eerlikheid, warmte en mensheid.
"Ek is in die eerste plek 'n humanis. Ek gee om vir almal in die wêreld," sê sy. En enigiemand wat haar al sien sing het, weet sy praat die waarheid.
Ons sit onder 'n groot skaduboom in 'n agtertuin in Bloemfontein en eet suurlemoenbrood, vars uit die oond van die vriendin by wie sy bly terwyl sy hier tot Saterdag in die Sterrewagteater sing.
"Die koek eet ek vandag vir liefde," bieg Amanda terwyl sy aan klein stukkies van die varsgebak peusel. Sy dra 'n lila-kuitbroek waaronder haar goedgevormde kuite uitsteek en 'n liggestreepte poncho.
Dis onder meer die atmosfeer van dié tuin wat haar aanspoor om te skryf. Vir haar album wat vanjaar uitgereik word, het sy reeds vier liedjies geskryf.
"Ek kan nie sê hoe die album gaan wees nie. Hoe kan ek? Dis so goed ek vra jou hoe jy môre gaan voel. Mens weet nie vooruit nie."
Die rustigheid hier is goed vir haar. Maar is daar 'n plek waarheen sy graag gaan?
"Die kamer in my kop. Dis waar ek meeste van die tyd heen gaan."
Maar sy hou ook van die see, waar sy grootgeword het. Sy en haar man, Tony, het reeds nou by Jeffreysbaai grond gekoop. Daar wil hulle gaan aftree. Nou het sy nog die stimulasie van Johannesburg nodig. Dis waar haar vriende en baie van haar werk is.
Verlede jaar het sy 'n stadium bereik waarin sy gevoel het sy het inspirasie nodig en sy het die kykNET-reeks Trippe Trappe Tone saam met Johan Allers in Europa gaan skiet. Toe sy terugkom, het sy Op 'n klein blou ghoen geskryf en opgeneem.
``Europa was vir my 'n mind blow. As jy eers weggegaan het en terugkom, besef jy deur watter bloedige geboorte ons land gaan en hoe agter ons is. In Europa werk alles. En die mense wat ek daar ontmoet het, is amazing.''
Onder hulle was die Suid-Afrikaanse uitgewekenes soos Darius Dhlomo, voormalige bokskampioen, - almal suksesvolle mense, wat gerespekteer word in hul vakgebied. Deur húlle het sy weer die mag van kennis en opvoeding besef.
"Dink net as die duisende in ons land dieselfde geleenthede as hulle gehad het. Hoeveel potensiaal is hier nie?
"Hier is so baie om heel te maak in hierdie land. Ons het nog 'n baie groot werk om hier te doen." Vir die bydrae wat sy kan maak, is sy bly sy't nooit die land permanent verlaat nie.
Televisiewerk soos Trippe trappe tone sal sy nie sommer weer aanpak nie.
"Ek mis die onmiddelike gehoor van teater. Die kontak met die mense hou jou op jou tone."
Op 'n klein blou ghoen noem sy 'n ``ligter'' CD as haar voriges.
"Ek het positiewe energie ingelaat. Ek het lig begin voel. Daar is steeds 'n teerheid en 'n boodskap in haar musiek. Dit is vir haar belangrik dat mense iets uit haar CDs kry.
Wat beskou sy as haar beste eienskap?
Lojaliteit, antwoord haar vriendin. "Ek try maar," sê Amanda en voeg by: Ek het 'n groot hart, wat soms misbruik word, maar dis ok maar orraait."
Vyf kinders lê baie na aan haar hart - dié van haar broer ('n dominee) en suster ('n dokter).
"Die kinders is behoorlik op hol as hulle hoor ek kom kuier. Ek dink dis omdat ek nog soos 'n kind saam met hulle speel en ek vertel vir hulle stories.
Dié jonkheid is sigbaar in haar uiterlike. Van die byna 47 jaar is daar geen teken nie. (Sy verjaar op 23 Julie - 'n kreef.)
Vir eers is sy aan die werk vir die Klein Karoo-fees waar sy by vier produksies betrokke is, een daarvan - beslis 'n feeshoogtepunt - is die vertoning Al daai jazz, waar twaalf divas elk een Afrikaanse, opgejazzde liedjie sing. Amanda sing hierin die liedjie Ons kan laat lê, wat Lize Beekman geskryf het.
Van die ander kunstenaars in Al daai jazz is Gloria Bosman, Elsabé Zietsman, Karin Hougaard en Natalia de Rocha.
Hartlied is haar splinternuwe musiekteaterstuk, wat sy saam met pianis Janine Neethling by Oudtshoorn op die planke bring.
"Dis baie sad, maar daar's ook humor in." Met dié stuk gaan hulle nie dadelik toer ná die fees nie. Dit sou onredelik wees teenoor Janine, wat pas 'n baba gehad het.
Nog 'n Karoo-produksie is Klankgrens, 'n spesiale konsert wat sy saam met Janine vir televisie-opname doen.
Ná die Karoo-fees volg die groot V-Day-konsert, 'n internasionale konsert teen vrouemishandeling by Caesar's in Gauteng waar die feministiese leier Gloria Steinem onder meer optree. Die doel van die konsert lê haar na aan die hart.
"Dis goed dat vroue van oor die wêreld vir 'n saak verenig," sê sy.
Saam met wie sal sy nog graag wil optree?
"Ek sal nog weer saam met Stef Bos wil sing." En dan ook saam met Karen Zoid, die nuwe gatskop-rocker.
"Karen is my dogter, my suster, my vriendin. Sy is sterk en gefokus. Sy moet net weet ek is al oud en ek gaan nie saam met haar rondspring nie.''
Maar eintlik verkies sy dit om alleen op te tree.
"Ek loop die pad alleen. Ek verkies om my eie ding te doen, omdat ek so baie van myself op die verhoog gee. As mens saam met iemand optree, moet jy altyd iets compromise."
Wat beïndruk haar?
Eerlikheid en 'n vreesloosheid om vaste beginsels uit te leef en daarby te hou.
"Mens kry nog sulke mense, hulle is dun gesaai, maar mens kry hulle."
Wat maak haar bang?
Die toestand van die planeet, wreedheid, onverdraagsaamheid.
"Het ek vooraf 'n beeld van haar gehad?'' vra sy toe ek opstaan om te loop.
Ja, natuurlik het ek vooraf 'n beeld van haar gehad. In elk van haar liedjies sien ek 'n beeld van haar. En die liedjies het nie gelieg nie. Amanda Strydom praat die taal van haar hart.