A M A N D A   S T R Y D O M

Beeld
Vrydag 9 Februarie 2001 - Plus Bladsy 8

Haar kuns moet mense raak

Deur Hannelie Booyens

Ná 20 jaar in die vermaaklikheidsbedryf het Amanda Strydom min bekendstelling nodig. As sanger en kabaretkunstenaars het sy al 'n handvol CD's op haar kerfstok en 'n reuse-aanhang. Vanjaar hou sy ook haar lyf televisie-aanbieder met die reisprogram Trippe trappe trone vir kykNET.

Op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in April sal sy te sien wees in Jazz vir jou en 'n bietjie blou saam met Rocco de Villiers.

Hannelie Booyens het met Strydom gesels.

Watter liedjie wens jy het jy self geskryf?

Happy birthday to you of Veels geluk, liewe maatjie. Dink net hoe skatryk ek vandag kon gewees het. Watter webtuiste besoek jy die meeste?

My eie www.amandastrydom.com. Vir fanmail, maar tevergeefs.

Wat is die malste ding wat jy al aangevang het?

Oe, meisie, jy willie weetie.

Verkies jy om te bad of te stort?

Albei. As ek van die gim af kom, verkieslik 'n stort, want die dag lê voor. As ek stressed is, 'n bad met lekkerruikgoed, 'n glas wyn, kerse en Vivaldi.

Is jy verslaaf aan iets?

Jip, die verhoog en my man se mond.

Met watter strokiesprentkarakter vereenselwig jy jou?

Tinkerbell.

Luister jy ooit na jou eie CD's nadat dit uitgereik is?

Baie weke later, dan wil ek alles oordoen. ``Too late!'' she cried.

Is daar iemand wat jy tot elke prys vermy?

Ja, maar om dié persone openbare vernedering te bespaar, swyg ek liewer.

Hoe leef jy jou godsdiens uit?

Deur dit gewoon te LEEF. In alles wat ek doen. Dus gee ek onbevooroordeeld liefde. Ek bly versigtig om te oordeel of te verwerp - there, but for the grace of God, go I . . . Elke show wat ek doen, moet mense raak.

Christus het op berghellings gestaan en preek, in die strate en orals waar daar mense was ek hoop dat wat ek doen deur my kuns mense ook só sal raak. Martin Luther King, Johanna van Arkel en Bob Dylan het dit ook gedoen who am I to blow against the wind?

Aan watter sportsoorte het jy al deelgeneem?

Swem ek was amazing. Hokkie ek was altyd ofsaaids. Netbal pateties. Spinning ek het al 'n medalje ontvang van Beeld vir die Kinderfonds. Dan is daar natuurlik Twakpraat ongeëwenaard.

Is jy positief oor die toekoms van die land?

Vra my weer oor 'n jaar. Ek het wasgoed om te doen. Ek bly by my OMO Ons Moet Opmaak.

Is jy al ooit iewers afgedank?

Nooit, ek het altyd padgegee voordat iemand dit aan my kon doen. Of wat het jy gehoor?

Wat maak van iemand 'n goeie minnaar?

Iemand wat kan soen en aan jou raak soos hulle graag aangeraak wil word.

Waar is die lekkerste plek wat jy al opgetree het?

Oukersaand op ons stoep in 'n wynrooigaasrok van De Bijenkorf in Amsterdam, Dire Straits se Private Investigations kliphard oppie hi-fi. Moët Chandon in die mooiste glase (albei persente van kykNET) en my man as enigste toeskouer. STAANDE ovasie, natuurlik.

Wanneer laas het jy jou humeur verloor?

Augustus 2000 in die Johannesburg Internasionale Lughawe. Pas terug van 'n moordende TV-skedule met Johan Allers vir Trippe trappe trone, staan daar skielik 'n mannetjie voor my wat my seun kon gewees het. Hy beveel my om my tas oop te maak. ``I have nothing to declare,'' sê ek. ``We'll see,'' sê boetie, vrot van die mag. Nadat hy deur my pênties en bra's en klere en dinge gekrap het, sê hy, ``OK, you can go.'' En draai sy rug op my. Goeie genugtig, Grieta, ek was só moeg, só gatvol en my linkervoet het 'n blaas wat vir niks skrik nie. Toe skreeu ek: ``IF you call yourself a gentleman and IF you are proud of your job, you will NOW close this suitcase and put it back on my trolley!''

Honderde Afrikaners wat pas geseën is by die Passiespel in Oberammergau kom simpatiek verby en vra of hulle kan help. Oe, dit was soos iets uit Egoli, City of Gold Horror Show. Mannetjie draai summier om, rits my tas moeitevol toe en sit haar netjies terug op my trollie. Dit was die laaste keer wat ek my humeur verloor het.

Watter werk sal jy nooit doen nie?

Joune.

Verkies jy hitte of koue?

Albei onthou, ek is bipolêr.

Watter dag in jou lewe sal jy nooit weer wil oorhê nie?

Non, je ne regrette rien elke dag is deel van die foto wat oplaas my grafskrif sal wees.

Aan wie se oordeel heg jy die meeste waarde?

My ma s'n. Die res kan gaan skyt in die mielies.

Wanneer (en saam met wie) het jy die laaste melkskommel bestel?

Vier weke gelede met my allerliefste Tony, terwyl ons gewag het op die uitslag van 'n neuroloog wat x-strale van my nek geneem het. Ons het albei daarna spuitpoep gekry, maar die x-straalresultate was verblydend ek SAL staan.

Watter fliek het die grootste indruk op jou gemaak?

Sjoe, dis moeilik daar is baie, maar die flieks wat in my psige bly steek, is Thelma and Louise en Antonia's Line.

Wat is jou grootste sonde?

Dat ek 'n mens is en nie 'n dolfyn nie.

Op watter prestasie is jy die trotsste?

Dat ek elke oggend uit die kooi kan opstaan.

Waarvoor het jy onlangs geskrik?

'n Spinnekop in die badkamer ag asseblief, bokka ek is nou poelaait komaan wat my regtig laat skrik, is die onnoselheid van ons politici. Dis 'n skrik wat ek elke dag met my saamdra. Ek is glad nie bang vir spinnekoppe nie, net vir dom mense.

Wat prikkel jou?

Eerlikheid. Vreesloosheid. Mense wat die gawe het om teen alle opposisie in hulself te wees. Okay, dit was die diep ding. Wat my andersyds prikkel, is donderweer, die Eagles, Dire Straits, Annie Lennox en Just Jinger.

Wat is liefde?

Kyk in die spieël, gee my dan die antwoord. Dis wanneer ons onsself liefhet, dat ander mense ons kan liefkry.