Amanda Strydom is op 23 Julie 1956 in Port Elizabeth gebore. Na
sy matrikuleer aan die Hoërskool Framesby in 1974,verwerf sy die
graad B.A.Drama aan die Universiteit van Pretoria in 1979.
Amanda is 'n aktrise, skrywer, kabaretkunstenaar, komponis en
digter-sanger.
Haar politieke bewussyn het in 1986 'n groot publieke reaksie
ontlok toe sy haar lied, "Die Pas", oor die ongeregtigheid van
die destydse paswette, in Stellenbosch met 'n gebalde vuis en
die "Amandla"kreet afgesluit het. Kort na hierdie insident is
sy emosioneel byna kreupel gelaat met bipolêre depressie waaroor
sy later 'n toneelstuk geskryf het.Die stuk is deur psigiaters
en kritici geloof as 'n openbaring.
Strydom dra vandag steeds in die openbaar by om die stigma wat
aan hierdie siekte kleef, die nek in te slaan, met o.a. haar skrywes
in Jeanne Els se boek oor depressie getiteld "Ligdans".
Strydom is deur die jare bekroon met die volgende pryse:
Die Star Tonight toekenning vir Beste Aktrise in 'n Engelse TV
dramareeks 1985.
Die Dalroprys 1994 Vier Geraastoekennings 2001,2003 Vier FNB Vita
toekennings 2000, 2001, 2002
Drie Showtime toekennings 1994,1996 Die SAMA toekenning vir beste
Afrikaanse Kontemporêre Album 2004
Die Kannaprys vir Beste Vroulike Kunstenaar ( KKNK) 2004
Die Laureatus/Laureata toekenning van die Universiteit van Pretoria
2003 Die Vonk toekenning vir Beste Vroulike Kunstenaar 2005
Die Herrie Gewildheidsprys saam met Coenie de Villiers en Janine
Neethling vir hul produksie "Ons loop die Pad", KKNK 2007
Die Rapport/City Press Prestige Prys 2007
Strydom se boek,"Kaalvoet", met haar liedtekste, het in 2004
verskyn. Sy het tot op datum ses eenvrou musiekteaterstukke,talle
musiekproduksies en elf albums geskryf en geproduseer.
Oud pres. Nelson Mandela het haar in 2001 besoek nadat sy deur
drie Rottweilers aangeval is. Hul ontmoeting was 'n persoonlike
hoogtepunt in haar lewe.
Strydom beywer haar vir die behoud van suiwer Afrikaans op haar
vakgebied en is in Mei 2007 en Februarie 2008 met groot lof ontvang
deur die Nederlandse en Belgiese publiek tydens haar toere deur
die Laelande. Sy is onmiddelik weer bespreek vir toere in 2009
en 2010. Sy het die besonderse eer te beurt geval deur genooi
te word om op 25 September 2008 in die gesogte Koninklike Carré
teater op te tree ter viering van Wêreld Erfenis dag. Sy is een
van 'n handjievol internasionale kunstenaars wat genooi is om
deel te neem aan die verrigtinge.
Vir meer inligting oor haar sukses in die Laelande, sien: www.amandastrydom.eu.
Haar nuwe album, "Kerse teen die Donker" is in Januarie 2008
opgeneem en die produksie is genomineer vir twee Kannatoekennings
by vanjaar se ABSA KKNK. "Kerse teen die Donker" is in Junie 2008
ook in Nederland vrygestel.
Vir meer onlangse inligting oor Amanda se loopbaan, besoek haar
op Facebook.